Close

2019-04-09

As Maatskaplike Werker

“As Maatskaplike Werker is daar niks wat my so hartseer maak as die wete, dat wanneer kinders in n Kinderhuis geplaas word, hulle in baie gevalle van hulle broers en susters geskei word. Hulle moet al reeds verwerping en die alleenheid van weg wees van hulle ouerhuis hanteer. Om dan boonop weg te wees van iemand wat ook dieselfde as jy deurgemaak het, maak dit dubbel so swaar vir hulle.

Daarom het hierdie geval my so geraak. (Skuilname is gebruik om die kinders te beskerm)

‘n Seun, *Phillip, 14 jaar oud het verlede week vir die eerste keer in 12 jaar kontak gemaak met sy suster.

Die twee sibbe is 12 jaar gelede geskei van mekaar.  Hy was 2 jaar oud en sy sussie *Linda ’n skamele 8 maande.  Omdat ons nie sulke jong ouderdomme opneem nie, moes die 2 ongelukkig geskei word van mekaar.

*Linda was na haar kinderhuis plasing, in pleegsorg geplaas.

Die pleegmoeder het my verlede week gekontak en genoem dat *Linda ‘n behoefte het om haar broer te sien.  Die ontmoeting is gereël.

Die ontmoeting het goed afgeloop. Dit was hartverskeurend om te sien hoe *Phillip en *Linda eers bietjie skaam was vir mekaar en daarna het hulle huiwerend vir mekaar ’n drukkie gegee.
Op pad terug na die Kinderhuis, was *Phillip baie stil, maar die glimlag op sy gesig het boekdele gespreek! ’n Dag na sy ontmoeting met sy sussie, het Phillip trots vir my ’n prentjie kom wys wat hy geteken het van hom en *Linda.

Ek gaan in die nabye toekoms ook ‘n ontmoeting met die twee se sussie en hul ouma reël.”

Dit is wat saak maak. Die feit dat ons almal tog maar êrens wil behoort.

Baie dankie weereens dat u deur u bydrae, ons Maatskaplike Werkers se hande versterk om ’n verskil te maak in ons kinders se lewens.”

Terug na Kinders se stories