Close

2019-04-09

‘n Dag in die lewe van ‘n maatskaplike werker

Ons vier vandag saam met die res van die wêreld die bydrae van Maatskaplike Werkers. Hiermee ʼn roerende gedeelte deur Jessica Johannisen geskryf, sy in tans ʼn Maatskaplike werker by Durbanville Kinderhuis.

Het jy al ooit gewonder hoe dit is om ‘n maatskaplike werker te wees? Hoe dit is om in ‘n kinder- en jeugsorgsentrum te werk waar 144 kinders weens verwerping, mishandeling of verwaarlosing uit hul gesinsomstandighede verwyder is? Het jy al ooit gedink hoe dit is om met die mees kwesbare, dog braafste kinders tussen die ouderdomme van 2 en 18 te werk? As jy al gewonder het “Hoekom doen hulle dit?”, laat ek hieronder my vrese en vreugdes met jou deel:

My taak is om hierdie kinders te koester, hul emosioneel by te staan en hulle weer in liefde te laat glo. Die pyn op hul gesigte is moeilik om te ignoreer. Die gedagte aan wat hulle deurgemaak het, is hartverskeurend.

Dit is ‘n verhouding waar jou emosies soms wipplank ry tussen liefde en haat!

Gister het ‘n kind my vertel hoe sy pa hom daagliks met ʼn plank geslaan het. Hom sonder kos uit die huis gejaag en oornag buite laat slaap het. Gister het ek gehelp dat een van ons kinders sy suster vir die heel eerste maal ontmoet. Hy het so breed geglimlag dat sy oë net skrefies was.

Vandag het ek ‘n kind se letsels, waar sy haarself seergemaak het, gesien. Haar bewende lippie en die lelike merke op haar arms. Vandag het ‘n kind vir my ‘n Valentynsdagkaart gemaak waarin hy vertel het hoe lief hy vir my is en dat hy waardeer wat ek vir hom doen. Hy was só trots op sy meesterstuk en ek het opreg geëerd gevoel om so ‘n spesiale geskenk te kon ontvang.

Môre sal ek aan ‘n kind vertel dat haar ma vermoor is. Ek sal die dood en die hemel en die betekenis van ʼn begrafnis aan haar moet verduidelik. Ek sal haar in my arms vashou terwyl ek haar probeer vertroos. En môre sal ek ook, na jare se harde werk, ‘n gesin uiteindelik weer kan herenig. Met die soet herinnering aan die kinders se gelag in my ore en die dankbaarheid in die ouers se oë sal ek môreaand kan gaan slaap.

Om ‘n maatskaplike werker te wees, is meer as ‘n beroep; dit is ʼn roeping – inderdaad ʼn delikate gee-en-neem-verhouding, ‘n pragtige mengelmoes wat ek die voorreg het om te koester!
Maak vandag nog ʼn verskil in een van ons kinders se lewens deur maandeliks R100 of meer by te dra, kontak asb. vir Melanie by marketing@durbanvillekinderhuis.org.za vir meer inligting.

Terug na Kinders se stories