Close

2019-04-08

‘N Nuwe Reis het begin…

Ons wil u bedank vir u ruimhartige skenking. Deur jou hulp kan ons ‘n omgewing skep waarin kwesbare kinders hul volle potensiaal kan bereik. Ek deel met trots die volgende storie.

‘N Nuwe Reis het begin…

Ek sien hom langs sy Corsa Lite staan, “my eerste voertuig, wat ek met my eie geld gekoop het”, verklaar hy trots. Vandag staan Tim voor my as ʼn jong onafhanklike man, ‘n baie ander persoon as die skaam en bang seun wat die eerste keer deur die kinderhuis hekke gestap het. “Dit is nogal moeilik daar buite” deel hy met my wetende dat die wêreld buite die veiligheidshek van die Kinderhuis ‘n wêreld is wat nie altyd goed is nie.

Tim is nou ‘n gekwalifiseerde loodgieter en het werk gekry in ‘n klein dorpie buite Kaapstad.

Hy mis die kinderhuis en waardeer die opleiding en geleenthede wat gekry het. Hy praat met groot entoesiasme en humor oor sy tyd in die Kinderhuis se oorbruggingshuis. Die Oorbruggingshuis bied ʼn geleentheid vir ons kinders ( 18 jaar en ouer) om in ʼn ondersteunend omgewing verder te studeer en werk te kry. Sy spontane vertellings laat my wonder watter kattekwaad hulle alles aangevang het. Maar terselfdertyd word ek daaraan herinner dat ons almal die nes moes verlaat, en ja, ons het ook soms kanse gevat maar ons het die ondersteuning gehad van ʼn ouerhuis. Tim het hierheen gekom vandag om totsiens te se voordat hy die grootmens wêreld aanvat, want die Durbanville Kinderhuis is sy huis.

Tydens sy verblyf by ons was hy in staat om sy ma op te spoor en bande met ander familielede te versterk, hy het vaardighede aangeleer om boelies te hanteer en geleer dat dit altyd die beste is om die waarheid te praat. Tim het daardie vaardighede geneem en homself ontwikkel tot ‘n jong man, waarop enige ouer trots sal wees.

Ons werk is gedoen.

Weet dat u bydrae ʼn verskil maak.

Johanna Strauss

Terug na Kinders se stories